Die drie Swanepoel (name is verander) kinders,  Japie 12 jaar, Johan 14 jaar en Sonja 9 jaar,  is in Oktober 2011 by een van ons CMR kantore aangemeld weens erge seksuele misbruik en fisiese en emosionele mishandeling en verwaarlosing van al drie die kinders.

Die kinders is dieselfde dag nog verwyder en in ’n veiligheidshuis geplaas. Die assesserings wat van al drie die kinders voltooi is, het bevestig dat hulle kinders is wat erge trauma beleef het, maar ook ernstige ontwikkelingsagterstande gehad het weens langdurige verwaarlosing.

Die pleegsorgwerker van CMR Noord kon baie vining pleegouers vir Sonja vind omdat sy nog baie klein was, maar dit het maande geduur voordat pleegouers vir Japie en Johan gevind kon word.

Dit was egter baie belangrik dat al drie hierdie kinders by pleeggesinne geplaas moes word, omdat hulle intensiewe hulp en aandag nodig gehad het na jare van verwaarlosing.

Na ‘n intensiewe werwingsveldtog is ’n pleeggesin gevind wat bereid was om beide seuns in pleegsorg te neem.Al die personeel by die Kindersentrum was emosioneel baie geraak deur die drie kinders se erge trauma en het saam gejuig toe die kinders suksesvol by pleeggesinne geplaas is.

Vir die pleegouers het daar egter jare van klippe kou en baie harde werk voorgelê.

Al drie kinders moes ekstra hulp kry met hulle skoolwerk en moes maande van intensiewe terapie deurloop om hulle met die deurwerk van hulle trauma te help.  Sonja veral was baie getraumatiseer en verwaarloos en moes ook arbeids- en spraakterapie ontvang.

Die twee pleeggesinne het ook kontak met mekaar behou om te verseker dat die band tussen die kinders in stand gehou word.

Weens die erge trauma en verwaarlosing waaraan die kinders in hulle ouers se sorg blootgestel was, het die hof ook die biologiese ouers se ouerlike regte getermineer (iets wat slegs by hoogs uitsonderlike gevalle gebeur). Die afgelope twee maande het beide pleeggesinne die CMR Noord Kindersentrum genader om die betrokke kinders aan te neem.

Hoe heerlik was dit nie om na die asssessering van die drie kinders te besef dat die kinders werklik tuisgekom het by hulle nuwe gesinne, dat hulle goed vorder op skool maar die belangrikste: Hulle het werklik ‘n goeie positiewe band met hulle pleegouers gevorm.

Die drie stralende kindergesigte is so ‘n kontras met die verskrikte gesiggies van 5 jaar gelede. Drie pragtige kinders wat gered is en met selfvertroue hulle pad verder sal kan loop.

Ons salueer hierdie twee pleeggesinne