Emmanuel Brussel is ‘n aangenome kind. Met sy aanneming sou niemand ooit kon raai dat sy registrasie by Binnelandse Sake só ‘n wending sou inneem nie. Met elke poging om hom by Binnelandse Sake geregistreer te kry het gefaal – nie net een keer nie, maar vier! Hy moes sy graad 11 vir die tweede keer aanpak – nie omdat hy nie die mas kon opkom nie, maar omdat sy registrasie en ID steeds nie in orde was nie. Om sake te vererger, was hy gekies om as leier te dien, en moes hy noodgedwonge die balkie terug oorhandig aangesien hy steeds nie sy matriek jaar kon voltooi nie.

In Mei 2016 is die CMR Daspoort  genader om te help om hierdie hopelose situasie om te draai. Die hele frustrerende proses (wat teen hierdie tyd soos ‘n onmoontlike taak gevoel het) moes weer van vooraf begin! Emmanuel het opgewonde  gewag vir die kans om uiteindelik geregistreer te word en sy ID , sy deur na verdere onderwys, in sy hande te hê. Maar hy is weereens teleurgestel; Binnelandse Sake het WEER sy papiere laat wegraak. Die CMR Daspoort kon nie meer langer toelaat dat hierdie seun (wat al VYF pogings aangewend het) ontneem word van ‘n blink toekoms nie. Hulle het geen ander opsie gehad as om die minister van Binnelandse Sake te nader nie, en gevra dat hy ingryp nie.

Einde 2016 is Emmanuel weer gekies as leier, en dié keer as hoofseun. Maar teen dié tyd was hy al soveel keer teleurgestel dat hy nie eens opgewonde was oor die vooruitsig om so ‘n indrukwekkende posisie in te neem nie. Maar die onderwysers en sy mede-skoliere het dit duidelik gemaak; hulle het geglo in Emmanuel. Ons moes hom aanmoedig om weer sy matriek jaar te gaan doen. Ons het vas geglo en vertrou dat hy hierdie keer betyds geregistreer sou wees, en dat sy wens om sy hoërskool loopbaan te voltooi bewaarheid sou word. Almal het saam met Emmanuel in sy vreugde gedeel toe hulle die goeie nuus ontvang; op die 23ste Maart 2017 is sy geboortesertifikaat uitgereik en kon hy sy matriek voltooi.