Ek wil graag met julle ons storie van genade, hoop en vertroue kom deel vanoggend. Ek is seker daar is van julle wat hier sit wat al deur die uitsonderlike proses van aanneming is. So ook ek en my man.

En ek wil vandag kom getuig oor die groot eer wat ons het om ons seuntjie groot te maak.

Maar laat ek by die begin begin…dit was in 2006 na Dr’s vir ons gesê het ons sal nooit kinders van ons eie hê nie toe God vir my hierdie skrif kom gee uit Johannes 11 – dis die storie van Lazarus

Joh 11:4  When Jesus heard this, he said, “His sickness won’t end in death. It will bring glory to God and his Son.”

Die storie van Lazarus gaan aan. En Lazarus gaan toe dood. En God kom toe “after the fact” – toe daar geen meer hoop is by die mense nie, want hy is dan nou dood. Toe kom God en sê, rol die steen weg want Lazarus moet uitkom…

Joh 11:40  Jesus replied, “Didn’t I tell you that if you had faith, you would see the glory of God?”

En hulle het die steen weggerol, en Lazurus het lewending uitgestap.

En ek het net altyd vasgehou aan hierdie skrif wat sê, as jy in my glo, sal jy die heerlikheid van God sien.  En ons het altyd aanhou glo. Baie tyd het verby gegaan en baie detail wat ek nie nou kan vertel nie…maar hier is hoe ons belofte tot vervulling gekom het:

4 Oktober 2014 het ons pad met die CMR begin. En ek onthou dit so goed toe hulle vir ons sê dat hierdie ‘n pad is wat ons met sekerheid kan stap, want ons gaan beslis ‘n kind ryker word. Die tydlyn is net nie in hulle of ons hande nie…Die 16de Junie 2015  bel Marietjie my en sê daar is ‘n moontlike passing. Van toe af het die dinge baie vinnig gebeur. Ons het die biologiese ouers ontmoet. En hulle storie sluit by ons storie aan..want hulle onbeplande swangerskap word toe ons beplande  wonderwerk. Die 10de Julie 2015 is ons seuntjie gebore. Ons eersgeborene, Ewan, het die wêreld gesien. Dit was presies 9 maande later. Dit was ‘n betekenisvolle tyd…dit was vir ons ‘n geestelike  swangerskap.

Na Ewan gebore is, kom die Here en HY sê vir my hierdie woorde: My kind, dis hoe ek dit nog altyd beplan het. En ek het net besef hoe God hierdie legkaart so mooi in mekaar laat pas het. Ewan was nog altyd bestem om ons kind te wees. Hy het ons lankal reeds uitgekies om die ouers  van hierdie kind te wees.

Ek sal altyd vir Ewan vertel van sy geboorte ouers…want vir hulle het ons net respek en dankbaarheid. En ek eer hulle vir hulle dapperheid, en omdat hulle hulle ongebore kind so liefgehad om vir hom ‘n kans op lewe te gun. En ons vertrou dat die besluit wat Ewan se geboorte ouers gemaak het nooit vir hulle ‘n verwysing van skuld, skaamte en seer sal wees nie…maar dat God hulle harte sal kom genees en dat hulle sal terugkyk met vrede en vorentoe kyk met hoop.

Een van die vele goed wat ek geleer het is dat ons nie vir God moet beperk deur ons eie vooropgestelde idees oor hoe ons lewe moet uitspeel nie… Die manier hoe God sy beloftes tot vervulling bring in jou lewe kom nie noodwendig in die pakkie wat jy gedink het dit moet kom nie. En bowenal sal God jou nog kom verras met hoe merkwaardig, asemrowend en heerlik SY plan vir jou is.

God sal ons nooit tenakom nie. God sal altyd Sy beloftes aan jou eer. God se storie is perfek.

Die wag was uiteindelik vir ons verby toe ons vir Ewan, ons seun en ons belofte in ons huis en in ons harte verwelkom.