Katie* – ‘n Baba met die mooiste blou ogies
Baba Katie* se omstandighede is by die CMR Musina Sentrum van Hoop aangemeld. Die baba het dringend hulp en beskerming nodig gehad. Haar geboorte mamma het haar verwaarloos (sy was ondervoed en het erge brande in haar doek-area gehad). Sy het ook aan ander erge siektetoestande gely.
Images for illustrative purposes only. Pseudonym* name/s are used to protect the confidentiality of the persons involved.
Haar mamma het haar gebruik om simpatie by die gemeenskap te kry en het geld gebedel onder die voorwendsel dat sy vir Katie daarmee sal sorg. Katie is by tye in die sorg van verskeie inwoners van die gemeensakp oorgelaat wanneer haar mamma gevoel het dat sy ‘n “breek” van ouerskap af nodig gehad het. Baba Katie was maar 9 maande oud toe sy in veilige sorg geplaas is en het op daai stadium nie eers ‘n geboorteserifikaat gehad nie.
Die maatskaplike werker en dokter was geskok om Baba Katie se hartseer ogies, emosielose gesiggie en maer lyfie te sien tydens haar eerste ondersoek.
Katie is dmv ‘n hofbevel beveilig en in ‘n tydelike plek van veiligheid geplaas. Die maatskaplike werker moes die Springs Hospitaal in Gauteng kontak, waar baba Katie gebore is, om die nodige dokumente aan te vra. Na ‘n lang proses het baba Katie uiteindelik ‘n geboortesertifikaat vanaf die Departement van Binnelandse sake af ontvang.
Alle eer aan GOD dat die plasing van Katie haar in ‘n gelukkige en babbelbekkie-dogtertjie verander het! Sy het die mooiste blou ogies en glimlag nou wanneer sy in babataal met jou gesels. Sy strek haar armpies uit en is nou mal oor drukkies en glad nie meer bang vir fisiese kontak nie.
Haar geboortemamma het versoek dat die pleegouers vir Katie aanneem, en hulle het die geleentheid met liefde aangegryp.
Katie is nou 2 jaar oud en haar aannemingsproses vind plaas onder die toesig van die maatskaplike werker in Musina – ‘n ware Sentrum van Hoop!