(012) 460 9272x2 marketing@cmrn.co.za

OM ‘N STEM TE WEES VIR KINDERS WIE SLAGOFFERS IS VAN DIE ONDENKBARE IS TEGELYK ONS MORELE EN WETLIKE VERPLIGTING

Deur Dr. Ronel Aylward – Algemene Bestuurder CMR Noord

Gebaseer op die mees onlangse statistiek, soos byvoorbeeld die 2019/2020 Jaarlikse Misdaadstatistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), word daar ongeveer 24 000 kinders per jaar seksueel misbruik en aangerand in Suid Afrika, wat meer is as die gemiddeld in die res van die wêreld. Hierdie syfers word verder bevestig deur die aantal nuwe sake wat deurlopend na die CMR Noord verwys word. Gedurende 2020-2021 is 622 nuwe sake aangemeld in slegs die geografiese gebiede wat deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aan die organisasie toegewys is. 

In ons land skryf die Children’s Act en die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) die verpligte aanmelding van enige kennis of vermoede van kindermishandeling voor. Alhoewel die versuim van sodanige aanmelding ‘n kriminele oortreding is en daarom sonder twyfel ons wetlike verpligting is, het ons as ‘n gemeenskap ook ‘n morele plig om die stem te wees vir kinders wie slagoffers van die ondenkbare is. Hierdie artikel werp kortliks lig op sommige van die essensiële feite met betrekking tot die seksuele misbruik van kinders as ‘n hulpmiddel om bewusmaking te kweek en hierdie onaanvaarbare misdade teen kwesbare kinders te beveg. 

Waarom het kinders ons nodig om seksuele misbruik namens hulle aan te meld? 

Die feit dat aangemelde seksuele misbruik van kinders epidemiese afmetings wêreldwyd aangeneem het, het in die algemeen ‘n tweeledige impak op gemeenskappe oor jare heen gehad. Enersyds het bewus-wording rondom die betrokke kwessie gegroei. Andersyds  het dit ook ‘n reaksiebeweging aangehits wat die geloofwaardigheid van sodanige aanmeldings bevraagteken asook aanklagte van valse bewerings en breinspoeling tot gevolg gehad het soos bevestig deur gesaghebbende navoring. (By Silence Betrayed, John Crewdson (1988); Child Sexual Abuse, Kathleen C Faller (1993); The Battle and the Backlash: The Child Sexual Abuse War, David Hechler (1989), ens.) 

‘n Kritiese aspek wat die meerderheid van genoemde studies bevestig, is die belang van ‘n omvattende, gefasiliteerde proses ten opsigte van die openbaarmaking van hierdie gruwelmisdade aangesien die slagoffers daarvan nie normaalweg hierdie misdade self sal aanmeld nie. “How Children Tell: The Process of Disclosure in Child Sexual Abuse by Teena Sorenson and Barbara Snow ” (1991) dui byvoorbeeld die volgende aan:

  • Die oorgrootte meerderheid geloofwaardige slagoffers ontken aanvanklik die misbruik; 
  • Ontkenning is uitgewys as ‘n algemene reaksie wanneer ‘n kind te bedreigd, bang of onseker was om die misbruik te erken. 

Hierdie ontkenning kom al hoe meer gereeld voor, selfs wanneer daar duidelike bewyse tot die teendeel bestaan. In ‘n studie deur Muram en kollegas byvoorbeeld is daar bevind dat van al die kinders met positiewe mediese bevindinge wat inderdaad seksuele misbruik bevestig het, ongeveer die helfte nagelaat het om die seksuele misbruik aan te meld.  Soortgelyk het studies soos “What To Ask When Sexual Abuse is Suspected” deur Leventhal & Co. (1987)  aangedui dat valse beskuldiging van seksuele misbruik deur kinders hoogs ongewoon is, en valse beweringe so min as 1% van aanmeldings uitgemaak het. 

Die slotsom is dat daar oorweldigende getuienis bestaan wat aandui dat kinders wie slagoffers van seksuele misbruik is hoogswaarskynlik dit nie self sal aanmeld nie en dat wanneer die bewyse van hul misbruik wel na vore kom, hulle dit hoogswaarskynlik aanvanklik  sal ontken.  Wanneer hulle wel sodanige misbruik aanmeld, is dit hoogs onwaarskynlik dat dit vals sal wees. Die feit van die saak is dat wanneer kinders se bewerings ten opsigte van seksuele misbruik uit die staanspoor nie erken of ondersoek word nie, hulle nie net slagoffers van hul aanranders nie is, maar ook van ‘n gemeenskap wat hul nie geglo of beskerm het nie

Wie moet kindermishandeling aanmeld?

In Suid Afrika vereis wetgewing dat enige persoon met kennis of wie ‘n redelike vermoede het dat ‘n kind verwaarloos of mishandel word, dit moet aanmeld. Die genoemde wetgewing bepaal ook dat die nalaat daarvan om dit aan te meld ‘n kriminele oortreding is. Artikel 11 van die Children’s Act verplig verskeie kategorieë van professionele persone om dit  aan te meld, wat die volgende insluit: korrektiewe beampte, tandarts, homeopaat, immigrasie beampte, arbeidsinspekteur, regsverteenwoordiger, mediese praktisyn, vroedvrou, leraar, verpleegster, arbeidsterapeut, fisioterapeut, sielkundige, geloofsleier, maatskaplike diens professionele praktisyn, maatskaplike werker, spraakterapeut, onderwyser, tradisionele mediese praktisyn, tradisionele leier, personeellid of vrywillliger by ‘n gedeeltelike sorgfasiliteit, “drop-in” sentrum of kinder- en jeugsorgsentrum (kinderhuis). 

Wat behels die proses van openbaarmaking van seksuele misbruik van kinders? 

Die volgende is ‘n voorbeeld van hoe die proses normaalweg sal ontvou vanaf die oomblik dat beweerde seksuele misbruik van ‘n kind aangemeld is:  

  1. ‘n Lid van die gemeenskap of een van die professionele persone hierbo gelys wie kennis verkry of  ‘n redelike vermoede het ten opsigte van die misbruik, voltooi ‘n vorm 2 by die kinderhof wat die finale jurisdiksie oor die kind(ers) het.  
  2. ‘n Geregistreerde kinderbeskermingsorganisasie (KBO) soos die CMR Noord fasiliteer dan die proses om te verseker dat ‘n ondersoek gedoen word na die beweerde misbruik/mishandeling. Alternatiewelik reik die Kinderhof ‘n vorm 9 uit, waardeur die KBO die mandaat verleen word en opdrag gegee word om die aanvanklike ondersoek namens die hof te doen. 
  3. Normaalweg neem die KBO die kinderslagoffer na ‘n geregistreerde maatskaplike werker (wie spesifiek opgelei is in die “FACT” sosio-emosionele assesseringstegniek) om ‘n sosio-emosionele assessering te doen. 
  4. Hierdie assessering maak gebruik van twaalf verskillende assesseringstegnieke wat elkeen onderskeidelik ten doel het om die bevindinge van die ander te bevraagteken of te bevestig. 
  5. Gelyktydig hiermee word kollaterale ondersoeke gedoen om die huislike omstandighede van die kind en die biologiese ouers vas te stel. Gewoonlik word hierdie agtergrondsondersoeke gedoen deur ‘n KBO waar die ouers woonagtig is.  
  6. Indien die sosio-emosionele assessering die vermoede van misbruik bevestig, sien die KBO toe dat die kind geneem word vir ‘n forensiese assessering deur óf die SAPD óf ‘n gekwalifiseerde  onafhanklike maatskaplike werker wie opgelei is om forensiese assesserings te kan doen. 
  7. Indien die mediese ondersoek wat deel uitmaak van die forensiese assessering bevestig dat misbruik wel plaasgevind het, voltooi die KBO ‘n vorm 22 en dien dit by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) in.
  8. Indien dit nie moontlik is om die beweerde oortreder te verwyder uit die kind se huislike omstandighede nie, word ‘n vorm 36 voltooi om die kind in ‘n veilige omgewing te plaas hangende ‘n volledige ondersoek van die saak. Die kinderhof moet hierdie vorm 36 binne 48 uur bekragtig en ‘n aanhoudingsbevel uitreik  waarvolgens die kind tydelik in ‘n veilige omgewing geplaas word en daar opdrag gegee word dat ‘n volledige ondersoek gedoen word met betrekking tot die kind se omstandighede. Die kinderhof kan ook sodanige vorm 36 tersyde stel indien die hof nie oortuig is daarvan dat sulke drastiese stappe wel geregverdig was nie.  
  9. Wanneer die ondersoek wel voortgaan, word die kind emosioneel voorberei oor wat om te verwag in die kinderhof aangesien dit soveel meer traumaties vir kinders is om oor hul mishandeling binne ‘n vreemde omgewing te getuig. 
  10. Hierdie voorbereiding behels eenvoudig om die fisiese omgewing van die kinderhof te beskryf en hoe daar teenoor die voorsittende beampte opgetree moet word. 

In kriminelehofondersoeke  word die kind normaalweg deur ‘n tussenganger of ‘n forensiese maatskaplike werker van die SAPD begelei. Wanneer kinders in strafsake getuienis moet aanbied, moet hulle noodwendig bygestaan en  ondersteun word sodat  hul op hul  gemak gestel word met die doel om  die ware feite aan die hof oor te dra. Nooit sal ‘n kind voorgesê word om valse bewerings te maak  nie. In elk geval word die kind se getuienis in die kinderhof en strafhof getoets.   

  1. Al die besonderhede van sodanige sake word genotuleer en aangeteken in ooreenstemming met die voorskrifte van die Kinderwet en alle insidente en sessies word gedokumenteer en geliasseer.
  2. ‘n Netwerkvergadering word vervolgens gehou waartydens alle betrokke partye teenwoordig is, insluitend die aangewese maatskaplike werker en bestuurder, die maatskaplike werker wie die sosio-emosionele assessering gedoen het, asook enige ander professionele persone wie by die saak betrokke kon gewees het bv. prokureurs, sowel as die biologiese ouers van die betrokke kind.
  3. Alle getuienis/bewyse word dan uiteindelik aan die kinderhof voorgelê waar dit kruisondervra word deur die voorsittende beampte van die kinderhof, die regsverteenwoordiger van die kind en ander toepaslike regsverteenwoordigers.  
  4. Gedurende kinderhofverrigtinge word aan alle partye betrokke partye die geleentheid gebied om te reageer en hul eie weergawes voor die hof te stel. 
  5. Die finale uitkoms word bepaal deur die voorsittende beampte van die kinderhof. 

‘n Kernwaarneming is dat die proses soos hierbo beskryf deurlopende en objektiewe bevraagtekening en/of bevestiging ten opsigte van al die inligting wat deur alle partye aangebied word, gedurende die hele proses beskikbaar stel. Al die verskillende assesserings word deur verskeie onafhanklike partye gedoen. Al hierdie inligting word dan ten volle ondersoek deur die gevolglike wetlike prosedures waarvan die finale uitkoms bepaal word deur die hof. 

Moet die besonderhede rakende seksuele misbruik van kinders in die openbaar bespreek word? 

In ooreenstemming met die Children’s Act en die etiese kode waaraan maatskaplike werk professionele persone moet voldoen, word uitsonderlike sorg en beoordeling aan die dag gelê voordat inligting rakende weerlose kinders in die publieke domein gedeel word ten einde hul eer en menswaardigheid te beskerm. 

In aansluiting daarby, wanneer die besonderhede van hierdie slagoffers wyd en openlik bespreek word, kan dit hulle blootstel aan nóg meer trauma en groter mishandeling bo en behalwe alles wat hulle reeds moes verduur. Miskien die mees belangrike, om die vertroue van al diegene wie tans onder die sorg van die organisasie is te behou, moet KBO’s soos die CMR Noord deurlopend demonstreer dat hulle daartoe verbind is om hul inligting en identiteit te beskerm. 

Hierdie ononderhandelbare benadering tot integriteit vorm die hoeksteen waarop die 86-jaar-oue nalatenskap van die CMR Noord gebou is en sal die fondasie bly waarop alle toekomstige dienste gebou word.

Bronne:

https://www.sciencedirect.com/science/article/abs/pii/0145213496000774

https://adc.bmj.com/content/archdischild/62/11/1188.full.pdf